Monday 17 May 2021

Die G in NGK betekenisrowend verander




Dr Bernhard Ficker loop deur onder kritici vir sy Skrifgefundeerd gereformeerde Godsbeskouing. Soos dr Henrietta Klaasing(10.05), deel ek ook in sy gereformeerde oortuigings. 'n Belangrike vraag is na die aard van sy kritici se oortuigings; is dié ook gereformeerd? Dit lyk nie so nie.

Klaasing sê dat "die denke oor God die NG Kerk verder weg...van die gereformeerde leer neem." As voorbeeld wys sy op die amptelike "gender"-geregtigheidsbesluit wat op 8 Oktober 2019 deur die algemene sinode (AS) van die NG Kerk "stil-stil by die agterdeur ingetrek" is.

Klaasing beweer dié kerkbesluit het tot gevolg dat God deur sommige in vroueterminologie  aangespreek word, en vra dan of dié Kerk beïnvloed word deur die huidige tydsgees in die verstaan van die Bybel. Sy meen dié Kerk tree in pas daarmee op en flankeer "met gender en feminisme vir die Kerk, sy gereformeerde aard en die teologie."

Met soveel Skriftuurlik onversoenbare besluite reeds deur die AS van die NG Kerk geneem, moet Klaasing gelyk gegee word ook wat dié kerkleiding se 2019-besluit betref. Vir toegewyde Christengelowiges behoort dit duidelik te wees dat die AS-leiding reeds vir geruime tyd die weg van reformasie verruil het vir geloofs-  en kerklike transformasie.

Van 'n moderne apokaliptiese Patmos sal ons vandag presies dieselfde boodskap verneem as dié aan die gemeente van Pergamum (Open:12-17).In dié gemeente was daar mense "wat die leer van Bileam aanhang"; die leer van kompromie.

Word die betekenis van die G in NGK, misleidend, deur pseudomorfose verander? Dit blyk dat die NG Kerkleierskap hulself fluks daarmee besig hou en,so ook, Ficker se kritici.

(ngn)








No comments:

Post a Comment