Tuesday 20 July 2021

Hieroor mág ons van mekaar verskil


 


 Daar bestaan 'n lang lys van siekte-pandemies wat die mensdom deur die eeue getref het. In die 6de eeu sterf die helfte van die Europese bevolking aan builepes. Gedurende die 14de eeu eis die Swart Dood (builepes) ongeveer 25 miljoen lewens.

 Tussen die 15de en 17de eeue versprei pokke vanuit Europa na die Nuwe Wêreld (Amerikas) waar 90% van die inheemse bevolking daaraan sterf. Sewe agtereenvolgende cholera-pandemies volg mekaar in die 19de eeu in Indië op. In die 20ste eeu besmet die Spaanse griep ongeveer 'n derde van die wêreldbevolking met aansienlike lewensverlies.

 By gebrek aan kennis van die mediese wetenskap het diie vroegste pandemie-slagoffers hul toevlug tot die Kerk en hul Christelike geloof geneem. 'n Oorblyfsel hiervan is die tienjaarlikse Passiespele in Oberammergau.

 Met verloop van tyd het vooruitgang van die geneeswetenskap 'n verskuiwing vanaf geloof na wetenskap, as kuur vir pandemies, meegebring. Deesdae vra ons baie vrae soos: word ons alleenlik deur die wetenskap van siekte genees, of is die wetenskap 'n gawe van Bo as genees-instrument in diens van die Gewer daarvan?

 Binne ons sekulêre staat, waarvan die SA-grondwet aan elke landsburger godsdiens-  en meningsvryheid toeken, vind ek dit jammer dat ons as Christengelowiges nie groter blyke gee van ons siening van die wetenskap-geloofsverhouding nie. Word laasgenoemde tans ondergeskik gestel aan eersgenoemde?

 Natuurlik mag ons, vreedsaam, van mekaar verskil. Waarom nie, met groot dankbaarheid, die wetenskap as gawe van Bo onder die sambreel van ons Christelike geloof plaas, en nie andersom nie? Wetenskap kan my help tot by die "grens' , maar geloof dra my daaroor.

 


No comments:

Post a Comment